| Louis Fivaz |
|
|
|
|
Wat die hart van vol is - Louis Fivaz Louis Fivaz het geen bekendstelling nodig nie - met sy nuutste en vierde uitreiking bewys hy weereens presies watter bestendige en ervare kunstenaar hy is. Louis is nog altyd ‘n kunstenaar wat met emosies kan speel, en met Wat die hart van vol is maak hy weer sy aanhangers se harte sag. Wat die hart van vol is bestaan uit sestien snitte waarvan twaalf oorspronklike en splinternuwe liedjies uit Louis se eie pen is. Die nuwe CD, vervaardig deur die ervare Andre Hartman (Juanita du Plessis-faam), is oor ‘n lang tydperk opgeneem. Elke snit is verwerk, bewerk, herdink en gemeester om dit tot sy volle reg te laat kom. Louis het twee jaar lank aan die nuwe album geskryf en terselfdertyd ‘n blaaskans geneem van al sy vele verantwoordelikhede as vooraanstaande besigheidsman; Centurion Sakekamer-voorsitter en familieman: “Die tyd is ook gevat om myself weer te vind en om te bepaal hoekom ek musiek wil maak.” In dié twee jaar het Louis ook ander veranderinge gemaak – hy het sy voorkoms verander en besluit om kragte met ‘n nuwe plaatemaatskappy, HIT Records, saam te span. Die samewerking sorg vir ‘n unieke eindproduk: “Louis se album pas beslis in geen spesifieke boksie nie - jy hou daarvan of nie, maar een ding kan jy nie ontken nie… dis eerlik.” Die CD se klank is nuut en vars, maar herinner sterk aan ou legendes soos Gé Korsten - tydloos en klassiek, met ‘n sterk melodie en harmonie. Louis se woordspel en sosiale kommentaar vleg soos ‘n draad deur die album en min aanhangers gaan nie geraak word deur sy wonderlike subtiliteit nie. Benewens al die nuwe snitte is daar ook vier nuwe opnames van ou treffers soos Sunnyside. Voorwaar ‘n heerlike verskeidenheid. Vir meer inligting besoek Louis se webwerf by www.louisfivaz.co.za of kontak sy agent Carin …. Of besoek die HIT Records webtuiste by www.hitrecords.co.za
|














